Blog

Latest News
Nuwe Webwerf Vir Bespreking Van Plaasvakansies

Nuwe Webwerf Vir Bespreking Van Plaasvakansies

’n Nuwe besprekingswebwerf bied aan toeriste een plek om aanlyn na plase met vakansieverblyf te gaan soek. Meer as 80 verblyfplekke is reeds op agritourismafrica.com geregistreer.

Me. Jacqui Taylor, stigter en besturende direkteur van Rural Tourism Africa, sê die mark vir sulke ervarings groei en die organisasie ervaar ’n toename in navrae vanaf nuwe demografiese markte. “Stedelinge doen weens Covid-19 introspeksie oor wat in die lewe saak maak. Daar is byvoorbeeld Suid-Afrikaners wat voorheen in gimnasiums sou oefen, wat nou in ’n plaasomgewing wil fietsry, draf of swem.

“Gesinne wat in huise of woonstelle ingehok is, het ’n behoefte aan hul eie ruimte, terwyl mense wat aan depressie ly of iemand aan die dood moes afstaan weens Covid-19, ’n behoefte het aan ’n ruimte waar hulle deur ’n helingsproses kan gaan.“Kortom, die mark het uitgebrei en brei steeds uit.”

Boere kan hul verblyf gratis op die nuwe besprekingsplatform laat registreer en kommissie van 15% geld dan op besprekings. Die organisasie bied ook ’n opsie van lidmaatskap.

Toerisme bied diversifikasie

Taylor sê toeristeverblyf bied aan boere bykomende inkomste en risikodiversifikasie. Dit skep werkgeleenthede vir onder andere die boer se gesin of gades van plaaswerkers en bied beter benutting van plaashulpbronne.

Agritourism South Africa het in 2016 as ’n organisasie sonder winsbejag begin en Rural Tourism Africa in Januarie 2019.

Taylor, wat op ’n plaas grootgeword het en ’n agtergrond in bemarking van toerisme en die wynbedryf het, sê die landelike omgewing verander en boere verkoop plase aan groter korporatiewe ondernemings.

Sy het wêreldwyd na gevallestudies van landelike toerisme en agritoerisme gaan kyk en besef Suid-Afrika het nie ’n platform vir landelike toerisme om boere te help om hul inkomstestrome te diversifiseer en hul grond optimaal te benut nie.

Plase elders in Afrika ook later ingesluit.

Die nuwe aanlyn besprekingsplatform is aanvanklik net vir Suid-Afrikaanse plase, maar Taylor sê sy is al deur boere van oor die vasteland genader.

Rural Tourism Africa/South Africa bestaan uit ’n span van drie mense, gebruik die dienste van ’n vryskut-videograaf om video’s te maak vir boere wat lid is, en prof. Neels van Heerden, wat jare se ervaring in toerismegradering, kampering en glamping (gerieflike en stylvolle kampering) het, is op ’n vryskutgrondslag betrokke.

 

 

Related Posts

Leave a Reply